Thursday, 1 March 2012

SENIORS LOOP LIG: TROU IS NIE PERDEKOOP NIE

 Deur Jan Bekker
Sestig-plussers is die vinnigste groeiende groep internet-afspraakmakers en hulle is ook volgens ‘n Amerikaanse Universiteit in Ohio, meer realisties en eerlik met hulle profiele en aanlyn fotos.
Volgens ‘n onlangse opname op ‘n webwerf in Suid Afrika is die grootste begeerte van ouer enkellopende mense ‘n nuwe lewensmaat. Wat doen hulle daaromtrent? Hulle sit bepaald nie en wag vir ‘n toevallige ontmoeting nie. O nee! Hulle wend hulle tot die internet.
Op sestig en ouer is baie mense nog nie afgetree nie en wil ‘n huweliksmaat hê so te sê sonder om tyd te mors.
Meeste mense beskou die huwelik as vanselfsprekend. Romantiese liefdeshuwelike vind groot aanklank by die algemene publiek. Daar word jaarliks miljoene rande aan huwelikseremonies bestee.
In weklikheid is die huwelik as instelling besig om te disintegreer. Ek noem slegs enkele voorbeelde:
1.      Die redes vir huwelike – liefde, kameraadskap, stabiliteit, kinders en ‘n gesinshuis is nog dieselfde. Desnieteenstaande word byna die helfte van dié huwelike ontbind deur egskeiding.
2.      Baie vrouens is nog in werklikheid onderdanig aan hulle mans. Ek was onlangs by ‘n huwelikseremonie waar ‘n Nederduits-gereformeerde Kerk predikant die bruid gevra het of sy belowe om gehoorsaam te wees aan haar man. Sy het “ja” geantwoord. As ek die dominee kon spreek sou ek hom gesê het hy moet haar antwoord met ‘n knippie sout neem. In die werklike lewe is vrouens grotendeels geëmansipeer.
3.      Seks is hoegenaamd nie meer ‘n oorwegende faktor nie.  Dit was uiteraard jare terug ‘n dryfveer om ‘n huweliksmaat te hê. Voorbehoedmiddels het vir albei geslagte meer vryheid geskep om in verhoudings te wees sonder om ‘n formele huwelik te sluit. ‘n Amerikaner het geskryf “The diffusion of the pill was enormously powerful”.
4.    Ander erkende huweliksvorme het op die voorgrond getree byvoorbeeld saamwoonverhoudings (domestic partnerships) en huwelike. van persone van dieselfde geslag. Beide is nog steeds kontensieus.
5.      Baie mense trou nie of trou op ‘n hoë ouderdom. Hulle het eers op ‘n latere stadium kinders of mag wel besluit om glad nie kinders te hê nie.
6.      Die kerk of te wel die Christelike geloof was ‘n behoudende faktor. Mense hier te lande en elders verlaat die kerke in groot getalle sonder opgaaf van redes.
Ek dink dis amper te goed om waar te wees, dat ouer mense gepaste lewensmaats kan vind. Ek gun dit hulle van harte - My vraag is  egter wat maak jy met die nuwe liefde in jou lewe?
Enkele knelpunte:
Eerstens:Voor jy ‘n huweliks of ander ooreenkoms aangaan, maak ‘n noukeurige opname van al die geld en goedere. Moet niks aan die toeval oorlaat nie. Wat gaan daarvan word as julle trou? Dis nie goed genoeg om te sê: Ag! Ons gaan op huweliksvoorwaarde trou. Dit laat die geld en goed nie verdwyn nie. Ten beste maak dit die verdeling makliker met egskeiding, maar na die troue moet julle die dekstoele herrangskik. Volgens ‘n onlanse berig in ‘n Sondagkoerant is daar selfs ‘n museum van meubelstukke en ander ware wat dien as voorbeelde van die verbrokkeling van huwelike.
Tweedens, as jy deur die waas van verliefdheid realisties kan wees omtrent jouself en jou internet maatjie, maak ‘n bestekopname van jouself. Mense wat met mekaar wil saamleef moet nie net lief wees vir mekaar nie – hulle moet aanpasbaar wees. Ek het ‘n ruk lank by ‘n gesinsadvokaat gewerk. Nadat ons ‘n briesende, vegtende paartjie gespreek het, het ek telkens gesê: Die twee mense moes nooit getrou het nie.
Al die lesers sal voorbeelde hê uit hulle eie gesins – en vriendekring van twee mense wat eenvoudig onaanpasbaar is.
Julle het nie julle kinders se toestemming nodig nie, maar dit sou goed wees om met hulle oop kaarte te speel. In enkele gevalle sal ‘n kind of kinders hulle pa of ma se nuwe lewensmaat nie kan verwerk nie. Moet om daardie rede nie sommer terugdeins nie.

Teen hierdie agtergrond sou ek sê mens moet op gevorderde leeftyd nie sommer trou nie. ( Moenie vir die dominee sê ek sê so nie).
As jy dan wil trou gaan ‘n weloorwoë huweliksvoorwaarde kontrak aan.

Derdens probeer ‘n saamleef-verbintenis. In Engels noem hulle dit ‘n “domestic partnership”. Die gevolge kan by wyse van ‘n ooreenkoms op skrif gestel word. Kry ‘n prokureur om daarmee te help. Dit is nogal wetlik afdwingbaar.

Laastens, lees nou mooi wat ek sê :  
Wêreldwyd het daar spontaaan saamleef en afsonderlik leef verhoudinge ontstaan. In Engels noem hulle dit “Living Apart Together” (LAT). Julle hoef dan nie julle kalwertjies in dieselfde kraal te jaag nie. Elkeen behou sy eie goedjies en identiteit, maar is tog in liefde en gemeenskaplikheid trou aan mekaar.

Die feit dat die wêreld met moderne tegnologie kleiner geword het, maak samesyn makliker. Ek weet selfs van paartjies wat inter-kontinentaal so ‘n verhouding het. Waarom nie?

Maar sodra jy trou of soos man en vrou begin saamleef kan die poppe begin dans!

Ek het gesê: moenie vir die dominee sê nie maar ‘n dominee wat bevriend is met my suster het vir haar gesê sy wens haar kerk wil haar toestemming gee om sulke paartjies in so ‘n samelewingsverhouding te bevestig.

Jan Bekker is 'n regsgeleerde, 'n senior burger en iemand wat seniors se belange op die hart dra.


1 comment:

  1. Dit is ontstellend hoeveel seniors jaar na jaar enkel lopend bly vir 'n verskeidenheid van uiteenlopende redes.
    Hierdie advies en kommentaar van Jan is die moeite werd om te lees. Vriende maak en nuwe verbintenisse kan soveel doen om eensaamheid te verdryf en nuwe lewe in seniors se daaglikse bestaan in te blaas.
    Al wat dit vereis is 'n oop gemoed.

    ReplyDelete